Danksy puik ondersteuning, gaan voorbereiding van etes voort
“Ek was nog besig om ‘n skaaptjoppie op die kole te praat, toe personeel my skakel en sê die plafon in die kombuis is besig om in te gee,” vertel Jannie Kotze (bestuurder van Suikerbosoord: Heidelberg Vereniging vir Bejaardes). Dié gesogte aftreeoord in Freemanlaan se personeel en inwoners het sedert Sondag (28 November) gewys dat hulle in ‘n krisistyd gefokus kan bly en met geduld en ondersteuning, enige uitdagings kan oorkom.
Heidelbergers (en groot dele van Gauteng) het die afgelope paar weke gereeld onder donderstorms, aanhoudende swaar reënbuie, asook stormwinde deurgeloop. Dit blyk juis dat erge wind skade aan die kombuis se dak aangerig het, wat moontlik daartoe gelei het dat groot gedeeltes van die plafon Sondagmiddag begin ingee het.
“Johan Benade en sy bekwame span van TJ Roods wat verantwoordelik is vir alle etes by die aftreeoord, se potte was juis besig om te prut, toe die eerste paneel begin uitsak het. “Die personeel het my onmiddellik in kennis gestel en toe ek daar kom, het Johan reeds halt geroep met take in die kombuis,” het Jannie gesê. Hulle was behoorlik in diep water, want sowat 200 etes word daagliks hier voorberei, maar toe die plafon plek-plek begin sak het, moes die gewerskaf binne die kombuis gestaak word en alle voorbereidings na ‘n ander vertrek verskuif word. Die plafon het Maandag finaal begin ingee en nadat gedeeltes ingeval het, het groot hoeveelhede stof en ander gemors ook saam grond toe gekom.
Hierdie dorp van ons is egter uniek, een uit ‘n duisend! “Ek het een oproep gemaak, toe voorsien die Hervormde Kerk Heidelberg aan ons gastoerusting om voort te gaan met die voorbereiding van etes,” vertel Jannie dankbaar. Net die verswakte eenheid alleen benodig 60 varsvoorbereide etes daagliks – en met behulp van ‘n gemeenskap wat nie skroom om te help nie, is nie ‘n enkele ete oorgeslaan of afgeskeep nie.
Andrew McClintock (elektrisiën) het gehelp om die konvensionele oond uit die kombuis te skuif en te koppel sodat dié ook in ‘n japtrap weer aangewend kon word. Gelukkig maak Heidelberg Vereniging vir Bejaardes ook gebruik van die dienste van Suikerbosrand Makelaars, want danksy die bekwaamheid van Johann Strauss is die versekeringseis in ‘n rekordtyd afgehandel – aangesien die dringendheid van herstelwerk nie geïgnoreer kon word nie. Alhoewel die personeel van Suikerbosrand Makelaars reeds oorval is met eise sedert vloede en reënskade die dorp week na week tref, het Johann se professionele span nie gras onder hul voete laat groei nie en behoort herstelwerk spoedig te begin.
“Wat eintlik in ‘n krisis en chaos moes ontaard, is danksy ons ongelooflike plaaslike besighede en gemeenskap in ‘n positiewe ondervinding omgeswaai. Selfs ons bejaarde inwoners kom ons tegemoet met hul pragtige houding van geduld en verdraagsaamheid. Ek is so trots op my personeelkorps wat nie vir ‘n oomblik op die krisis gefokus het nie, maar eerder ingespring het om die situasie om te keer sodat die voorbereiding van etes sonder onderbreking kon voortgaan,” sê Jannie.
‘n Gedeelte van die saal word tans as die kombuisarea ingespan totdat herstelwerk afgehandel is. Alhoewel dit bietjie ongemaklik en uitdagend is, het Johan Benade en sy span nie geskroom om vir ‘n oomblik die groenteskillers en houtlepels neer te sit en breed vir Trots Heidelberg se kamera te glimlag nie!
#trotsheidelberg